Sies vir jouself

Ons almal ken die kere wat jy net gou iets by die winkel wil gaan koop. Jy het regtig net ’n brood of melk of ’n tamatie nodig. In jou kop sal dit tien minute neem. Maksimum.

So loop ek die amper vergete ou ongeduldige Self van voorheen onlangs in ’n winkel raak. Met ’n enkele item in die hand het ek die rye mooi bekyk en kies die kasregister waar net een mens reeds besig is om te betaal. Dit kan mos nie lank vat nie?

Nadat sy haar goedjies betaal het, haal die tannie egter nog ’n kaart uit en vra vir kontant. Ek sluk my ongeduld, want ek het dit immers ook al gedoen. Toe sy egter ’n tweede kaart uithaal en weer ’n keer kontant aanvra, raak ek regtig ongelukkig in my binneste. Maar, soos reeds genoem, ek het mos ’n nuwe vrede en rustigheid die afgelope paar jare ontwikkel, so ek sluk my irritasie en wag my beurt af.

Teen die tyd wat dit my beurt was om te betaal, het ek my ongeduld mooi onder beheer en komplimenteer ek die vrou agter die kasregister omdat sy soveel geduld gehad het met die verskeie transaksies.

It is SASSA, madam. We are used to this every month.

Ek het stil-stil vir my item betaal en met groot skaamte in my hart teruggeloop kar toe.

Die meeste mense wat in my nabye vriendekring is, het die vermoëns om by ’n winkel in te stap en so te sê enige iets te koop wat nodig is. Sommige sonder om eers twee keer na die prys te kyk. Ek spot soms om te sê dat ek bevoorreg genoeg is om nou en dan ’n avokadopeer by Woolworths te koop – en dit is waar. Ek kan oë toeknyp en skuldig die pakkie skaaptjops in my mandjie laai omdat ek regtig, regtig lus is vir ’n tjoppie.

Wie gee my die reg om ongeduldig te raak in ’n ry wanneer die persoon voor my heel waarskynlik net genoeg geld het om die nodigste te koop?

Dit was tyd om weer bietjie terug te kom aarde toe en ek gaan ’n punt daarvan maak om my voete stewig op geduld se grond te hou.

C.

Junie 2026