My storie

In my hart was ek nog altyd ‘n skrywer. Ek het boeke verslind van ‘n baie jong ouderdom en het nog altyd gehoop dat ek – eendag as ek groot is – die geleentheid gaan hê om my droom te bewaarheid en voltyds te skryf.

Ek het intussen wel “grootgeword” en besef dat nie almal as skrywer ’n bestaan kan maak nie, maar dit het nie my lus vir skryf tot niet gemaak nie. Ek het dus hierdie roete gekies: ’n webblad waar ek kort stories kan publiseer en moontlik later kortverhale.

My agtergrond in ’n neutedop: Ek is November 1960 in Port-Elizabeth gebore. (My tong struikel nog so bietjie oor Gqeberha, maar ek werk daaraan.) My skooljare was versprei tussen ‘n paar skole in Suid-Afrika en het uiteindelik in Windhoek tot ‘n einde gekom.

Ek het die grootste gedeelte van my werksloopbaan met rekenaars en later syfers gewerk – iets waarvoor ek ‘n natuurlike liefde en aanvoeling het.

Om my eendag-as-ek-groot-is-droom te verwesenlik, het ek na-ure by Unisa ingeskryf en twee grade voltooi: BA Visuele Kuns (Multimedia) (2015) en BA Kreatiewe Skryfkuns (2019).

Ek woon tans in Centurion, Gauteng en raak nog gewoond aan die idee om na myself as ’n pensioenaris te verwys.

Cecilia Hofmeyr