Soms, net soms, loop daar ’n woord oor my pad wat iets so ongelooflik mooi beskryf dat ek dit wil raam en in my studeerkamer wil hang waar ek dit elke dag kan sien.
Eremition is so woord. Volksvreemd en onbekend, maar die storie agter die woord het my onmiddellik aan die skrywe gehad.
Google verduidelik dit as die proses waardeur jy gaan wanneer jy jouself doelbewus afsluit van alles en almal rondom jou, om sodoende in ’n toestand van afsondering hernuwing te beleef. Hierdie isolasie is nie as gevolg van bitterheid of ’n wrok van enige aard nie, maar eerder ’n stap weg van die wêreld om in die proses vrede en klaarheid te vind oor waar jy jouself bevind.
Ek het een keer vantevore in my lewe so iets beleef – terwyl ek in Spanje ’n gedeelte van die Camino gestap het. Daar is eenvoudig geen beter vorm van isolasie en introspeksie as tydens so stap nie. Net jy en jou gedagtes … en ’n paar baie, baie seer voete.
Toe hierdie woord nou onlangs op my skerm opduik, het ek onmiddellik besef dat dit die fase waarin ek nou is, ongelooflik mooi beskryf.
Daar is net ’n paar mense in my lewe wat al die verlies van ’n lewensmaat moes verwerk. En ten spyte van al my ander wonderlike vriende se omgee, is dit net daardie paar wat weet dat jy jouself eers binne jouself moet vind voor jy weer jou kop kan oplig en die wêreld in die oë kan kyk. Almal het verskriklike goeie bedoelings en ek gee baie maal toe aan die behoefte wat hulle het om my las ligter te maak.
Die dae wat egter soms vir my werk, is die dae wat ek nie ’n venster of ’n deur oopmaak nie. Die dae wanneer ek hierdie nuwe alleen pad in my kop deurtrap en moet aanvaar dat ek nog steeds, ten spyte van al my hartseer, baie bevoorreg is om te wees waar ek nou is.
Ek kon nie ’n Afrikaanse vertaling vir die woord vind nie, maar ek het wel die oorsprong gevind en dit beskryf nog mooier wat dit behels:

Ek het geweet dat hermiet ’n ander woord vir ’n kluisenaar is, maar ek het nooit geweet dat dit ook as ’n soldier crab bekend staan nie. Skynbaar omdat hulle in groot groepe marsjeer wanneer hulle migreer.
Dus, wanneer ek weer myself isoleer, weet dat ek eintlik besig is om voorwaarts te beweeg!
C.
07/2025
