Een of ander Slimjan het eendag vir my gesê: Niks is ooit weg nie. Ek kan glad nie daarmee saamstem nie, want ek verlê gereeld goeters. Die skêr wat nou net in my hand was. Die bril wat ek vir seker op sy plek neergesit het. Die vurkie in die tuin wat soos mis voor son tussen die plante verdwyn. Nege uit die tien keer moet ek eers moerig raak voor ek die verlore voorwerp vind… op ’n plek waar ek definitief al tien keer gekyk het.
Soos ek voorheen genoem het, sien ek myself al as ’n redelike Google expert en ek het verlief geneem met die feit dat Big Brother my getrou volg wanneer ek oor ’n spesifieke onderwerp lees. Dus was ek nie verbaas toe een van my snuffeltogte per toeval (?) by die hele niks-is-ooit-weg-konsep gaan draai nie, maar met ’n totaal ander uitgangspunt. Dit was op ’n webblad wat poog om genadedood meer toeganklik te maak vir diegene wat dit oorweeg. Op sigself ’n tameletjie van ’n onderwerp…
Wat my egter gefassineer het, is die hele gedagte wat mens tot by die Bybel kan neem: stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. Want alles om ons is gemaak uit atome en hulle verdwyn nooit nie. Hulle is oral om ons, sigbaar en onsigbaar en word skynbaar al vir eeue gesirkuleer. Die webblad stel dit so mooi: they are vigorously recycled at death.
Natuurlik het my kreatiewe brein onmiddellik gewonder of ek dalk, net dalk, nie ’n fraksie van ’n atoom met iemand soos Beethoven of Leonardi da Vinci deel nie. ’n Piepklein deeltjie, want dit sal dalk verklaar hoekom ek kan klavierspeel, maar net-net. Ek kan teken, maar so-so. Dalk kort ek so paar atome meer in my samestelling om daardie vlak te bereik?
Intussen sal ek egter getrou my toonlere oefen en my potlood opneem, want dit is goed vir my siel.
En wanneer ek weer ’n veertjie optel, sal ek wonder of ‘n deeltjie daarvan al voorheen oor my Liefie se pad gewaai het.
C.
09/2025
