My pad vorentoe

Ek het verlede jaar ’n stuk geskryf van my voornemens om my omstandighede trompop te loop en die beste te maak van wat loshande die ergste ervaring in my lewe was. In stede van weghardloop, soos my ou gewoonte was, het ek besluit om die lewe vierkantig in die oë te staar en te veg eerder as te vlug. Vandag kan ek terugkyk na die jaar wat verby is en met redelike sekerheid sê dat ek dink ek was in ’n groot mate suksesvol. Behalwe die feit dat ek myself in die hele fighting-mode amper ten gronde baklei het.

My manier van cope was grotendeels deur te begin stap. Eers net bietjies-bietjies hier in my eie omgewing en later baie dapper saam met groter groepe. Dit het aanvanklik goed gegaan, tot ek myself een of twee keer bykans te pletter geloop het. Wat die groepleier as relative easy with moderate inclines beskryf het, was vir my soos kaalvoet oor die Drakensberge. Ek het dit een keer net-net gemaak en moes vir dae lank daarna sukkel om myself net weer in stapskoene te kry.

Hardkoppigheid om die stryd te wen, het my selfs ’n paar keer dom goed laat doen. Soos om byvoorbeeld ’n oornag stap saam met wild vreemdelinge te beplan – net omdat ek nie kans gesien het om Oujaarsaand alleen deur te bring nie. Ek is nie seker of dit ’n blessing was nie, maar die week van die beplande “summit” was ek so siek dat ek nie kon gaan nie.

Ek besef vandag dat, alhoewel ek nie weggehardloop het nie, ek wel probeer ontsnap het uit my dag-tot-dag-bestaan. My liggaam was uiteindelik vuisvoos en het my tot stilstand gedwing. ’n Besoek aan my dierbare huisdokter het bevestig dat ek eintlik oukei is, maar heeltemal té veel té gou probeer doen het.  

My allerhande wonderlike idees oor mal staproetes, oorsese toere en vet weet wat nog, sal bietjie moet wag. Ek het nou wel ’n paspoort gekry – wat op sigself baie sê oor iemand wat kastig nie wou vlug nie, maar dié kan ek mos bêre tot my binneste heel is. Dan kan ek die wêreld aandurf.

Ek is nou ’n paar (baie rustige!) dae die Nuwe Jaar in en ek is oukei. Solank ek ’n vorm van vrede in myself kan vind, sal my voete altyd geanker bly.

C.

01/2026