My bucket list het lank terug die emmer geskop. Daar is nie meer ’n eendag-as-ek-groot-is lysie in my dagboek of amper vergete iewers op ’n Excel spreadsheet nie. Noudat my lewe weer begin rigting kry, wou ek tog iets doen wat vir ’n onfikse, oorgewig vrou van sestig plus darem bietjie excitement sou gee. Maar net ’n bietjie, want dit moet met my bloeddruk pil, plus al die die ander skete wat ek met die jare opgetel het, saamwerk. Ek het dus besluit om weer te begin stap. Dit is iets wat nog altyd iewers deel was van my lewe, maar wat ek noodgedwonge afgeskeep het.
So het ek onlangs een Saterdag douvoordag in die pad geval saam met ’n onbekende klomp mense op ’n onbekende roete. Nie baie vêr nie, maar darem genoeg om die spiere so bietjie te rek. Ek het daardie oggend vir die eerste keer in ’n lang ruk die son sien opkom. Dit is nou wel ’n Gauteng son wat tussen kragdrade deur loer en bloedrooi is van die woonbuurte se vure – genoeg om jou te herinner dat jy nie baie vêr in die bos is nie. Dit was vir my ‘n oomblik van absolute vreugde… Ek het die eers roeringe gevoel van ’n moontlike nuwe verlossing van al die donker en druk wat ek so lank met my saamgedra het.
Omdat ek niemand geken het nie, het ek in stilte gestap. Rondom my het mense lang stories vir mekaar vertel. Daar was honde aan leibande en selfs hier en daar ’n paar vreeslike indrukwekkende stootwaentjies. Dit was lekker om net te luister met geen verwagtinge van enige iemand om jouself te verduidelik nie.
Iewers langs Irene se rivier tussen die bome onthou ek die bordjie wat in een van Unitas se sale hang waarop die volgende woorde staan: silence heals. Ek het dit nie destyds regtig verstaan nie, omdat daar nooit volkome stilte in die hospitaal se saal was nie – die bordjie was vir my soort van onvanpas.
Vandag besef ek dat dit oor meer as net die stilte in die sale gaan. Dit gaan ook oor die stil word in jou binneste. Om soms eerder stil te bly as om gedurig teen die prikkels te skop en gal te braak. Om stilte te soek in ’n wêreld waar die vloer onder jou uitgeruk is.
Vir my, wat altyd baie gou ’n mening oor iets gelug het, was stilbly selde ’n opsie. Tog, noudat ek die saligheid en vrede van stilbly begin waardeer, gaan ek hard werk daaraan om dit deel van my pad vorentoe te maak.
C.
10/2025

